Friday 31 October 2014



Hallo

Vandag het ek nie baie om te vertel nie.  Dit was 'n rustige dag sonder enige drama of opwinding.

Vanoggend het Elfi haar vingerafdrukke by die agentskap gaan gee en die nodige vorms voltooi.  Dit het nie eers 20 minute geduur nie.  Ons vriendin het vroeg al gekanselleer vir ontbyt want sy het nie lekker gevoel nie.  Ons is daarna Tuisnywerheid toe om vir Renate 'n Pepperment tert en ander soetighede te koop, en toe huis toe.

Hier het ons tv gekyk en bietjie op FB rondgespeeel.  Renate het vandag 12 uur uit die skool gekom en Elfi het haar gaan  haal. Sy sê sy het baie lekker opstel gekryf.

Vanmiddag het sy ook bietjie gerus op die bank voor die TV en toe 'n bietjie wiskunde gedoen en aan haar Engelse taak oor sonnette gewerk.  Nou is sy en haar pa besig om van die wiskunde  wat sy so bietjie vergeet het van die eerste semester, deur te gaan.  Elfi gee haar diere kos.  Dit is 'n hele operasie wat haar omtrent 2 ure besig hou.  Ek sit en lees en wag vir Binnelanders om te begin.

Moreoggend gaan ons nou by ons vriendin koffiedrink omdat die ontbytetery nie uitgewerk het nie. Haar ma het gesê sy sal vir ons lekker vars appeltert bak.  Sien baie daarna uit want ons het mekaar lanklaas gesien.

My beste vriendin en haar man wat aan die begin van die jaar Pretoria toe getrek het, het gisteraand ook hier aangekom.  Vanmiddag het ek haar gebel en dit was heerlik om te gesels, maar ek is verstom hoe my Duits verswak het vandat ek haar laas gesien het.  Dis 'n skande.  Ek sal iets daaromtrent moet doen.  Volgende week kan ons darem weer kuier.  Sy moet net eers klaar trek.  Hulle treklorrie kom Maandag of Dinsdag.   Lyk my met 'n taal moet jy aanhoudend dit praat om dit vlot te praat, anders verleer mens  vinnig.  Tog het ek as klein kind op 'n Vrystaatse plaas Sotho leer praat en ek kan dit tot vandag toe nog vlot praat.

Julle moet 'n lekker aand hê
Groetnis
Theresa

No comments:

Post a Comment