Sunday 19 October 2014

Goeie dag liewe Vriende

Ek is vroeg vadag met my blog, want my rekenaar wil nie lekker saamwerk nie, veral as die inteernetkonneksie gedurig afgaan en mens niks kan doen om dit reg te maak nie.  Ek het gisteraand meer as 'n uur gesukkel om daardie paar woorde te tik en te post.  Dit wou net glad nie publish nie.  Ek weet nie of daar met hierdie website fout is nie en of dit my rekenaar is nie.  Ek sal hom maar more invat na 'n IT plek toe dat hulle my hele rekenaar deurgaan.  Hy is ook besonder stadig.

Ek het vanoggend baie laat geslaap.  Die ander was al terug van die kerk af toe ek opstaan.  Renate wou op 'n kerkkamp gaan hierdie naweek, maar sy sê haar skoolwerk hou haar te vas.  Gelukkig kom daar weer kampe.  Dis vir grootmense ook, meer so so familiekamp want ons gemeente is te klein om net kinders of net grootmense te vat.  Ons is in die Duitse Kerk. Swakop het darem 'n groter gemeente as ons en as ons saam met hulle meedoen is daar darem heelwat meer mense.  Ons het dit al gedoen met 'n kinderkamp en hulle het dit vreeslik geniet.

Ons het nie vanmiddag geet nie, want ons gaan netnou Take-Aways koop - Kentucky of Debonairs pizza.  Ons kan nog nie besluit wat nie, maar mens moet vroeg gaan anders staan jy in ellelange rye, veral by Kentucky, want dis waarheen ons almal neig.  Ons het al hierdie week pizzas geëet.

Ons sit en tv kyk.  The Animal Planet.  Daar kom darem oulike en opvoedkundige programme ook.  Daar is juis nou iets oor Vulkane op.

Ek heg vir julle 'n stuk aan wat Renate vanoggend oor haar Ouma geskryf het vir die eksamen.  Die juffrou gee vir hulle die onderwerpe voor die tyd sodat hulle iets ordentliks kan skryf  en uit hul koppe leer sodat sy nie al die gemors wat hul in die eksamen skryf hoef te lees nie.  Alhoewel ek 'n vieslike spesmaas het dat net 'n paar kinders iets skryf en dan leer.  Renate het verlede kwartaal 19 uit 20 gekry vir haar opstel wat sy op dié manier geskryf het.

Ek hoop julle het 'n heerlike Sondag verder
Groetnis
Theresa




Ouma

As iemand  aan my sou vra, "Hoe lyk jou ouma?",  sal my antwoord heel waarskynlik wees:  "Ag, 'n ronde beskuitjie van 'n mens met sloffies aan oor haar voete haar pla en 'n vrolike liedjie in elke voorskootsak.  Grys hare en  oë vol son; 'n ware vriendin."    Dis hoe ek my ouma sal beskryf.

Ouma, in daardie huisie van jou is jy oral teenwoordig;  in die stomende koppie koffie wat my met 'n gerusstellende sekerheid elke skoon  oggend begroet;  in die onmiskenbare patroontjie van die gehekelde tafeldoeke en dekens;  in die rye skulpies in jou kamer wat jou verweerde hande met met soveel teerheid versamel het.

Onthou jy Ouma, toe ek jou vertel het van Johan , en hoe hy my glas vol  jongmeisiedrome in skerwe laat spat het.  Teer het jy aan my verduidelik dat daar sonder gister geen  môre kan wees nie.  Dat vandag en môre se wortels vasgepen lê in gister en  dat die dae bestem is om voort te gaan.
Jy het gesê dat as ek geduld gebruik, ek sal agterkom dat die hartseer naderhand sy angel verloor.  Dat die winter ongemerk verby gaan en dat daar altyd weer 'n nuwe lente aanbreeek.

Elke aand as die maan skewebek getrek het vir die sterre, het die matjie voor die kaggel 'n troon geword waaroor jy jou eenvoudige lewensfilosofië uitgegiet het. " Jou ore moet elke sekonde van stilte toesluit, opgaar en wegbêre.  Jou oë moet alle ruimte in die brein fotostateer, elke ritme van die natuur skandeer,  elke oomblik van vryheid raakleef."  'n Ander keer weer "die verlede is soos 'n lieflike herinnering wat altyd by jou sal bly, maar die lewe moet aan, en die toekoms lê breed voor in die pad" of "as gister vir jou iets mooi gegee het, hou it.  Plaas dit by die mooi wat nog gaan kom, môre, oormôre en die dag daarna, my kind."  Hierdie dromerige uurtjies voor die vuur is van die kosbaarste tye van ons tye saam.

Wat kan ek meer vir jou sê as dankie?  Dankie Ouma, dat ek jou mag ken.  Dankie vir jou eerbaarheid, jou karaktervastheid, jou siele-adel.  Dankie vir die gelukkige ure wat ek in jou geselskap kan deurbring...dis goue drade in die patroon van my herinneringe
274  woorde

Renate Potgieter
19-10-2014
Walvisbaai

No comments:

Post a Comment