Sunday 31 August 2014

Hi julle almal

Goeie nuus eerste.  My migraine is weg. En dit op sig self is al 'n wonderwerk, want ek het al 'n week lank met 'n migraine geloop wat ten spyte van medikasie en selfs inspuitings nie wou skiet gee nie.  Dus ek is vandag baie dankbaar dat ek nie hoofpyn het nie.

Ons het gistermiddag Swakopmund toe gery en daar gaan eet.  Dit was nogal lekker.  Toe ons tuis kom het ons rugby op tv gekyk en later 'n paar programme wat op die dekodeerder se playlist is,  Goed wat jy tape en eintlik nooit daarby uitkom om dit te kyk nie.  Ons hardeskyf is amper  vol, maar nog steeds word daar programme geprogrammeer om te tape in die hoop dat ons een of ander dag dit sal kyk.

Vandag is 'n vieslike warm en bedompige dag.  Mens wil nie eers buite toe nie.  Theo het sy Jeep by die karwassery laat was en ons het so een uur se kant vleis gebraai en geêet.  Met braaibroodjies.  Die vleis was vir 'n slag nie oud nie, maar murgsag en baie lekker.  Daarna het ons die krieketwedstryd tussen Zimbabwe en Australiê gekyk.  Dit was nogal opwindend,  Zimbabwe het Australiê vir 209 uitgehaal, wat nie 'n groot teiken is vir die Australasiêrs nie.  Maar Zimbabwe het lopie vir lopie vasgesteek en die 210 te behaal.  Hul eerste oorwinning in 31 jaar oor Australiå wat maar bekaf gelyk het.

My vriendin se kiosk maak more oop en ek moet die foto's gaan neem.  Ek sal lekker vroeg moet opstaan daarvoor dat ek foto's kan neem voor die mense begin saamdrom.  Sy het 'n oulike naam vir die kiosk, Kokketoor.  Amper soos die Kokkedoor kookprogram op TV, maar tog anders.  Sy gaan toebroodjies, pasteie, koek, cupcakes en Duiste fyngebak daar verkoop.  Vir haar part hoop ek dit werk  goed uit,

Vanaand gaan ons so voor die besige week wat voorlê seker net TV kyk en rustig wees,  Die skool begin ook sowaar al weer Dinsdag, dan begin die groot ryery na al die aktiwiteite al weer.  Dit raak nie minder nie. Ek kan nie glo die vakansie is verby nie.  Dit was 'n heerlike 3 weke van niksdoen en net rustig wees vir my en die kinders.   Die 3 prysuitdelings (Kultuur, Sport en Akademies) lê ook nog voor,  Gelukkig het ons die jaar die trofeë vroegtydig laat grafeer en hul staan net reg om ingegee te word,  Ons skool  verander hulle skoolklere en Renate se nuwe baadjie is ook reg met sy wapen en ere-kleure balkies op vasgewerk. Gewoonlik is ek so deur die wind dat ek als op die nippertjie doen.  Maar hierdie jaar is ek voorbereid en reg.

Sien julle more weer
Groetns
Theresa

Friday 29 August 2014

Liewe Lesers

Ek het vanoggend met 'n migriane wakker geword wat net nie wil breek nie. Ek dink ek het te laat die imigril's gedrink om hom te kon stop.  Mens moet hulle drink as die kopseer voel kom, dus ek was werliklik te laat.  Ek het vanoggend tot nou die krieket gekyk.  Suid-Afrika was regtig baie gelukkig oor die onervarendheid van die Zimbabwiërs,, anders het hulle vandag ver verloor.  Want ons het nie goed gekolf nie.  Dis 'n feit soos 'n koei.  FAF du Plessis met sy honderdtal teen Australiê het liederlik gefaal
vandag, maar ek verstaan ook dat jy nie in elke wedstryd dieselfde kan speel nie. Gelukkig het hulle darem gewen en dis al wat saak maak. En 'n bonuspunt gekry.  Hulle is nou op 9, Australië op 5 en Zombabwe op 0.

My kop is regtig te seer om te skryf vandag, dus gaan ek maar op my uitskopstoel in die TV kamer sit en niks doen, dan plaas ek vir julle 'n skets wat ek nou die dag oor my kinderjare in die Vrystaat geskryf het.  Hoop julle geniet dit.

Groetnis
Theresa



DIE SLANGDANSER


Om op 'n plaas in die hartjie van die Vrystaat te kon grootword was 'n groot

voorreg.  Ons het 'n sorgvrye kindertyd gehad, met baie vars lug, die oop ruimtes

van die Vrystaat en veiligheid.


Natuurlik lewer die plaaslewe ook sy kwota gevaar op.  Slange, veral rinkhalse,

was nogal volop op die plaas.  Toe ek so ongeveer  ses jaar oud  was, het ek 'n

noue ontkoming met een gehad.  Hierdie ondervinding het my met 'n   

lewenslange fobie  vir slange gelaat. 


Agter die rondawels en die hoenderhokke was die kampie waar die graanskuur

was.  In daardie kampie was  ook 'n hele laning bloekombome.  Toe een van die

bome dood is, het my pa die boom laat afkap as brandhout.  Al wat van die boom

oorgebly het, was 'n stomp wat ongeveer so vyftig sentimeter breed en ongeveer

sewentig sentimenter hoog  was.  Presies in  die middel van daardie boomstomp

was 'n ronde gat.  Op die oppervlak was die gat ongeveer handbreedte,  maar as

jy jou hand ingedruk het, kon jy voel dat dit breër raak ondertoe, amper soos 'n

bottel.  Hoe groot die gat aan die onderkant was, het ek egter nie geweet nie.


Die holte in die stam was dan ook die geheime bêreplek vir my kosbaarste 

besittings.  'n Readers Digest, 'n plastieksakkie vol prente en artikels  wat ek uit

tydskrifte en koerante geknip het en 'n paar tekeninge en versies..  Daar was 'n

paar mooi klippies van versteende hout en 'n groen dennebolletjies wat ek


opgetel het en geglo het my gelukbringer was.


Een spesifieke oggend, na ek vir 'n rukkie nie daar was nie, het ek toe ses jaar

oud, en my vyfjarige sussie met ons oppaster, Tsibidi, in daardie rigting gestap.

Ek onthou dat ek vir hulle die een of ander prentjie wat daar versteek was, wou

 gaan wys.


Ek het nou al lankal vergeet watter prent dit was.  By die boomstomp aangekom,

het ek hoogs opgewonde vooruit gedraf.   My hand was al uitgestrek, net reg om

in die holte te steek, terwyl ek al babbelende agtertoe gesels het. Ek was omtrent

teen die boomstam toe ek oor my eie voete struikel.  Met dié wat ek vorentoe val,

kyk ek vorentoe en vas in die oë van 'n rinkhals wat halflyf uit die gat in die

middel van die boomstomp oprys.  Ek was yskoud geskrik en lam van vrees,

want op daardie oomblik het ek besef dat ek óf bo-op die slang gaan val, óf naby

genoeg dat hy my sal kan raak pik. Vir die eerste keer in my kort lewetjie het ek

gewéét dat ek op daardie spesifieke oomblik, die dood in die oë staar.



Maar ek het nie op die slang geval nie en hy het my ook nie gepik nie.  Tsibidi

het soos 'n pyl uit 'n boog vorentoe geskiet , my aan die arm beetgekry en

agtertoe geruk.  Saam het ons omtrent vier meter weg van die stomp geval. 

Sussie het van pure skok doodstil bly staan terwyl sy die een na die ander

bloedstollende gil oor die werf laat weergalm het. 



Dit was dan ook nie lank nie, 'n kwessie van 'n minuut of drie, toe is almal wat op

die werf was, daar.  Slang se kind het teen daardie tyd reeds weer in my

heiligdom in verdwyn, en niemand kon verstaan waaroor die bohaai gaan nie. 

Tsibidi, met my styf in haar arms, het die hele relaas in Sotho afgerammel.


Die plaaswerkers was almal Sotho's. Een, wat ons Tate Hans genoem het, was

al ouerig, maar wyd en syd bekend vir sy gevegte met slange.  Hy het almal, my

ouers inkluis, beveel om terug te staan en nader geloop.  Van een van die ander

bloekombome het hy 'n tak afgebreek , die blare afgestroop en dit met sy

knipmes skerp gemaak.  Daardie stok het hy in die gat gedruk en begin steek,

terwyl hy teen die stomp geskop het.   Hy het verduidelik dat hy die slang wou

kwaadmaak sodat hy moet uitkom.  Na 'rukkie het die slang jou wrintiewaar sy

verskyning gemaak.  Tate Hans was egter reg vir hom!  Die slang was al meer as 

halflyf uitgeseil, toe gooi hy die stok weg en begin al om die stomp dans. Dan

hiernatoe, dan agterom, dan dié kant toe, so al in die rondte.  Teen dié tyd was

die slang se hele lyf al uit die gat en het hy soos 'n koning op my troon gelê.  Met

sy kop plat getrek, het hy halflyf,  omtrent 'n halwe meter hoog gestaan.  Die wit

band om sy swart nek was duidelik sigbaar.  Met dié dat Tate Hans so heen en

weer dans, pik die slang elke keer in sy rigting. En hy spoeg!  Ons kon die gif

deur die lug sien trek.  'n Rinkhals mik vir die oë en is gewoonlik baie akkuraat.

Die gif brand glo soos vuur en die oë moet dadelik, met melk  (so is vertel)

uitgespoel word om skade te voorkom. Tate Hans het egter geweet om net buite

die slang se tref- en  reikwydte te bly. 



Ek was versteen. Hoe kon hy dit doen?  Sê nou die slang pik of spoeg hom raak

en hy gaan dood.  Destyds was serum nie altyd geredelik beskikbaar op die klein

dorpies nie, en het ons reeds 'n paar honde as gevolg van slangbyte verloor.  

Tate Hans kon die mooiste stories vertel en hy was nooit te besig om een van sy

vele staaltjies met ons te deel nie.  Ek was baie lief vir hom.  Ek wou my gesig in

Tsibidi se skouer druk om nie te sien as hy raak gepik word nie, maar

dit was asof 'n vreemde soort magiese krag my getrek het, en ek het vasgenael

bly kyk...


Hierdie gedansery het vir wat vir my soos 'n ewigheid gevoel het, aangehou.  In

werklikheid kon dit nie langer as vyf of sewe minute gewees het nie. Teen dié tyd

was rinkhals se kind al moeg en het sy pikbewegings al stadiger en stadiger

geraak.  Hy kon ook na elke probeerslag nie meer heeltemal regop  kom nie. 


Hans het aanhou dans tot  die slang poegaai was.  Die oomblik wat die slang nie

meer sy kop kon optel nie, het Tate Hans soos 'n vetgesmeerde blits vorentoe

geskiet, die rinkhals aan sy stert gegryp, hom opgetel en met 'n geweldige

sweepslag teen die grond geslaan,  voor hy met sy voet die kop verbrysel het.


Ons het almal spontaan begin hande klap.  Triomfantlik het hy die slang oor die

doringdraad gaan hang.  Amper soos ‘n Laksmanvoëltjie wat sy prooi  aan ‘n

pendoring inryg.   Die Sotho’s het geglo  dat dit die maat sou lok, veral indien dit

'n broeipaar was.   Dan kon dié ook van kant gemaak word.



Theresa Potgieter
Walvisbaai

Thursday 28 August 2014

Bubbles

Liewe lesers
Dis 'n heerlike koel/warm sonnige dag hier by ons.  Geen teken van sand of wind nie.  'n Regte dag om in die tuin te werk.  My strykvrou is vandag weer hier en sy help om die huis skoon te maak.  Ek is dus lekker los vandag.  O, ek haat huiswerk.  Ek weet nie wat ek sou doen as ek net 'n huisvrou moes gewees het nie.  Ek hou nie eers van koek of koekies bak of kos kook nie.  Ek is baie geseënd dat ek dit nie elke dag hoef te doen nie.  Al het ek vir jare kos gekook toe my kinders klein was en ek het geglo hulle moet een keer op 'n dag minstens 1 goeie maaltyd met vleis, 2 groentes en stysel kry.  En ek het dit gedoen, omdat ek moes. Maar my lewe is soveel meer ontspanne vandat Elfi die kookwerk by my oorgeneem het.  Ek sal nou en dan nog 'n tert of koek bak, maar dis nie baie nie.  Gelukkig is my mense nie lief vir soetgoed nie.  Behalwe Renate, maar ons koop by Spar vir 'n vlaskyf of so iets elke nou en dan en daarmee is sy ook tevrede.

Jack lyk 'n bietjie beter noudat hy op behandeling is.  Hy is nog steeds so maer, maar dis asof daar weer lig in sy oë is.  En geniet hy die aandag.  Nou is Renate se voëltjie se beentjie ontsteek.  Die veearts het verlede week sy toonnaels gesny en een dalk 'n bietjie te diep gesny.  Nou kry Biyakuya antibiotika en salf word aan haar voet gesmeer.

My vriendin begin volgende week met 'n kiosk in die middel van die mall waar sy koeke, pasteie en sulke goed gaan verkoop.  Koffie ook.  Ek dink dis 'n goeie idee en hoop dit werk vir haar uit. Maar hierdie laaste twee weke het sy soos 'n besetene rondgehardloop om alles reg en klaar te kry.  Ek hoop dis 'n voorspoedige venture wat sy aanpak.  Die gaping daarvoor is duidelik daar.

Bubbles

Bubbles is ons kleinste  (postuur) katjie en is al 5 jaar oud.  Sy het op 23 Desember 2009 by ons gesin aangesluit, as 2 en 'n half maande katjie.  Die kinders was dorp toe om nog die een of ander laaste ding vir Kersfees te kry toe hulle op 'n troeteldierwinkeltjie afkom, met die katjie daar.  Renate wat toe nog heelwat kleiner was, wil toe die katjie hê.  Dit was 'n tranedal toe die ander sê die katjie is te klein.  Sy noet nog aan haar ma drink, toe die eienaar van die winkel sê sy het nie 'n ma nie.  Hy hou die katjie maar net daar aan.  Hy behoort aangegee te word.  Sulke klein katjies behoort nie sonder 'n ma te wees nie, maar hy het die een of ander slimstorie daaroor gehad.  Hulle koop toe die katjie vir R20-00 en bring haar huis toe.  Toe hulle by die huis kom was ek ballisties dat hulle so 'n katjie gekoop het. Haar ogies was nog nie behoorlik oop nie.  Ek beveel hul toe om die katjie terug te vat petshop toe, maar toe hul daar  kom, is dit toe. Ek was bekommerd oor Renate want sy het net kort te vrede haar katjie aan nierversaking verloor en ek wou nie hê sy moes weer deur die trauma van nog 'n katjie wat doodgaaan  gaaan nie. Toe stuur ek hulle veearts toe met die katjie dat hy kan kyk of ons iets kan doen.  Hy was nie baie optimisties nie, maar heet gesê die kinders kan maar probeer.  Maar nie een van ons weet wat om haar te voer nie, toe lees ons op die internet jy maak so 'n klein weeskatjie groot met Ideal melk en eiergeel en as hul bietjie groter is, Pronutro.  

Ons het 'n paar spuitjies by die spreekkamer gaan haal en so het operasie katgrootmaak begin.  Sy het lekker uit die spuitjie gedrink en het sterker geword, later het ons die pronutro ook vir haar begin gee.  Nou was sy al ' n stewige klein katjie en sy het aangehou sterker word.  Maar sy het nie gegroei nie.  Sy is vandag nog 'n hele stuk kleiner as 'n gewone kat en baie dierbaar.  Almal het haar rondgedra en gecuddle en sy is hondmak.  Sy haal vir niks haar naels uit nie en is baie verdraagbaar. Sy is Renate se skaduwee en as Renate by die skool of in die bad is, sit sy voor die kamerdeur en huil.  As Renate huiswerk doen of leer, sit sy ook by haar.  Doodstil, asof sy weet sy moet haar nie pla nie.  Ons het haar aanvanklik buite toe gevat om te speel, maar later moed opgegee want sy wou nie regtig uit nie.  Seker oor die ander katte nie buitekatte is nie.  Ek het haar as babakat graag as model vir foto's gebruik en het 'n paar goeies gekry.  Sy het dit ewe gedweë toegelaat.  Ek het haar in bakke en blompotte en sulke goed gesit en dan afgeneem.  Sy is seker die enigste kat wat met elke verjaarsdag 'n verjaarsdagpartytjie kry.  Een keer moes ons vir haar 'n prentjie teken en 'n gedig daarby skryf.  Renate bak altyd cupcakes of brownies enBubbles kry 'n blikkie duur katkos.  So ook die ander katte en honde wat daar moet wees.  Dan sit ons om die tafel en sing vir Bubbles en hou makietie.

Bubbles drink nie graag water uit 'n waterbak nie.  Jy moet die kraan op 'n klein skrefie water oophou en dan drink sy so water.  Sy kom roep ons as sy dors is en wil drink,dan moet ons maar die kraan gaan oopmaak.  Sy kom goed met al die ander diere oor die weg, seker oor hulle haar help grootmaak het.

Hier is 'n paar foto's van haar toe sy klein was:
 Hier voer Theo haar met die spuit


 Lekker Pronutropap
 Haar rol as fototmodel
 Hier lê sy bo-op Scab
 My lewe as fotomodel.  Ek het 'n hele klomp kompetisies gewen



Groetnis
Theresa

Wednesday 27 August 2014

My katte

Liewe lesers

Ek is vreeslik lief vir katte en het 4.  Ek gaan vandag oor 2 van hulle skryf.

SCAB
Scab kom van my oudste dogter, Inge, af.  Sy't hom by die SPCA gekoop om nie so alleen in die woonstel te wees in haar eerste twee jaar op universiteit nie.  Hy is vernoem na die karakter Scab wat deur Izak Davel in Egoli gespeel is.  Sy is pikgit swart en die dierbaarste ding op aarde.  Sy moet nou ook al goed by die 10 jaar wees.  Toe moet Inge uit die woonstel uit na 'n ander een en Scab is daar nie welkom nie. Die Desembervakansie bring sy hom toe vir my.  'n Groot persent,veral omdat hy toe so goed oor die weg kom met die ander kat.  Dit was liefde met die eerste oogopslag vir die 2. Scab lê graag op my skoot (niemand anders s'n nie) behalwe as sy ou nooi kom kuier en knie vreeslik seer.  My maag is altyd vol krapmerke as hy by my gelê het.  Hy is ontsettend sterk.  Andersins lê jy agter op die leuning van my uitskopstoel.  Hy  is glad nie 'n buitekat nie en sal net nou en dan as ek by hom is 'n draai loop en van die catnip eet.  Hy is egter baie lief daarvoor om melk uit 'n glas te drink - enige melk -- gegeur of skoon. So met die ouderdom saam raak hy 'n bietjie grumpy met die jonger katte -ek dink hulle irriteer hom.














Beauty
Beauty is 'n Maine Coon.  Vol nonsens en dinge.  Sy is mens sku en kruip altyd weg as daar mense kom.  Tog is sy mal daaroor dat mens haar vryf of borsel.  Sy gebruik glad nie dieselfde katbakke of katsandbakke as die ander katte nie.  Sy het haar eie.  Ons het haar gekoop toe sy so 4 maande oud was in SA sonder om haar vooraf te sien en op die teler se woord gegaan dat dit 'n liefdevolle katjie is.  Toe sy hier kom, duisende rande later, kon jy sien dat sy nooit enige aandag gekry het of gehanteer is nie.  Sy was van die begin af sku en het geblaas as mens naby haar kom.  Wat 'n teleurstelling, niks wat ons gedoen het, kon haar gedrag verander nie en sy is nog steeds so.  Ons het almal egter 'n sagte plekkie vir haar en sy is 'n uitstekende fotografiese model.  Sy het nie grille en giere wat kos aanbetref nie, behalwe dat sy dit haar plig ag om almal se borde saans skoon te lek.  Verder sluip sy hier in die huis rond in die hoop dat sy niemand raakloop nie.  Haar kos en water en sandbak staan in ons slaapkamer, terwyl die ander katte s'n in die kombuis is. Sy lê graag op die toonbank in die kombuis die wêreld en bespied. Sy kom ook nie buite nie.   Tot nou toe was Scab haar dierbare eggenoot,maar nou wil hul niks met mekaar te doen hê nie.  Beauty is omtrent 7 jaar oud.














Groetnis
Theresa




Tuesday 26 August 2014

Hallo Julle

Vandag gaan ek bietjie skryf oor Bo. Ons Duitse Herdershond.  Bo is ongeveer 10 jaar oud en is 'n dierbare, saggeaarde hond.  Sy is baie waaksaam en is Elfi se hond.  Elke keer as Elfi opstaan, staan sy op en loop agterna.  Selfs as sy bad, dring sy daaop aan om in die badkamer te lê, so nie voor die badkamerdeur. Al is sy saggeaard, dink ek sy sal nie toelaat dat enige een van ons aangeval word nie.  Daarvoor is sy te getrou.  Haar gunsteling tydverdryf noudat sy nie meer 'n jong hondjie is nie, is om op Theo se stoel te klim en te slaap.





 Julle kan my tog nie sien nie
 My een oor staan darem al regop

 My tande pla

Hallo liewe lesers

By ons is dit 'n heerlike rustige vakansiedag en niemand doen iets nie.  More bars mens weer as jy alles moet inhaal way jy nie vandag gedoen het nie.  Maar dis more se probleme. Uiteraard is hier nie eintlik nuus nie, behalwe dat Theo vir ons middagtyd enorme T-Bone steaks met 'n sampioensous gebraai het.  Mens was net lus om daarna te gaan lê en lekker te dut.

Vandag sit ek 'n ou skets op wat ek al in 2005 geskryf het, maar nog net so van toepassing is vandag;
Dit was net nadat ons in Walvisbaai aangeland het.



Die saak met die bank

Wat het geword van Bank/kliënt vertroulikheid.  Of is ek verkeerd as ek
nie wil hê my finansiële toestand, of eerder die gebrek daaraan, moet die hele dorp vol lê nie.  Solank ek my skuld betaal en my verpligtinge nakom, kan ek nie insien met wie dit enigsins iets uit te waai het nie.

So doen ons aansoek by 'n groot finansiële instelling vir 'n huislening.  Die bankverteenwoordiger kom sien ons nogal by die huis om die aansoekvorms vir ons te voltooi..  Ons is kwansuis sulke geëerde kliënte - bank ak 25 jaar by hulle en nog 'n klomp ander snert waarmee hulle ons heuning om die mond wil smeer.  Ek moet darem  erken dat dit soms lekker en baie handig is.   Hulle sal glo  nie daarvan droom om ons te laat inkom bank toe om sulke gewone goed soos aansoekvorms vir 'n lening in te vul nie.

Een middag kom daar toe 'n bank-vrou, “gecollar en getaai”, by ons aan huis.  Ons praat oor die weer en al die ander niksseggende goed waarvan mens  praat as jy 'n gesprek aan die gang wil kry en aan die gang wil hou.  Ons is mos geleer dis nie goeie maniere om met die intrapslag oor geld te praat nie.  Sy waarskynlik ook, want sy praat ewe lekker saam.

Dis egter nie lank nie, toe móét ons daaroor praat.  Dis dan die hele doel van haar besoek. "How can we help you" is mos hulle slagspreek.

En ons praat oor geld, al het ons ma's ons geleer dat dit baie "common" is om daarooor te praat. "Sorry, Ma", sê jy hier in jou binneste, en praat maar aan.

Uiteindelik kom ons ooreen op 'n bedrag, maar die hulpverlenende hand wil net doodseker maak ons vra vir genoeg, en skuif uit haar eie die bedrag waarvoor aansoek gedoen word, met so driehonderd duisend op.   Ons weet voor ons heilige siele dat ons nie die paaiemente op die verhoogde bedrag kan bekostig nie.  Ons noem dit vir haar.  "Ag," sê sy, "dis nie 'n probleem nie.  Julle gebruik maar net soveel van die lening as waarmee julle gemaklik voel en kan bekostig om terug te betaal".

Nou wonder ek net, hoeveel hulp is daar in ‘n wortel wat so reg voor jou neus gehang word.  Agt uit elke tien mense sal waarskynlik dink:  "wat de hel, as hulle dink my kredietwaardigheid is soveel, hoekom dit nie maar gebruik nie".  En wanneer die "paw-paw" dan die "fan strike", word daardie helpende hand die hand wat jou hulpvraende bak hande, wegklap.  Hulle het jou mos reeds gehelp, al dan nie.  Wat dan?......

Ewenwel, so vra ons baie mooi en ordentlik dat dit asseblief maar stil gehou moet word.  "Dis vanselfsprekend", word ons gerus gestel.  Ons wil nie hê die huisagente moet ons oorval nie, verduidelik ons verskonend, en veral moet hulle nie weet waarvoor die lening goedgekeur word nie.  Dan is dit bykans onmoontlik om 'n laer aanbod as die gevraagde prys te maak, en nog moeiker om te onderhandel.  Want watter agent gaan nou sy kliënt aanmoedig om te "settle" vir minder, as hy weet waarvoor die koper deur die bank as kredietwaardig verklaar is.

Verstaan nou mooi, dis nie asof ons daarop uit is om 'n "bargain te strike" nie, maar as ons in die proses  'n paar rand kan spaar, hoekom nie?  Almal doen dit en niemand is op die ou einde slegter daaraan toe nie .

Kry ek vanoggend die oproep.  "Mevrou, die lening is toegestaan.  Baie geluk".  "Dankie", sê ek beleef en baie dankbaar.  "Mevrou, wat moet ons vir die huisagente sê.  Hulle bel aanmekaar om te hoor of die lening al goedgekeur is".  Ek is stom-verbaas, om net daarna te wil ontplof.  "Hoe weet hulle van die lening", wil ek beheersd weet.  Want ek weet, sowaar as wat ek ek is, dat ek vir niemand iets daarvan gesê het nie.  En ek weet dat Manlief nooit iets sou gesê het nie.  Die kans is normaalweg baie groter dat ek iets sal uitlap, maar hierdie keer is ek onskuldig.  "Nee Mevrou, ek weet regtig nie", word ek opreg meegedeel.

Ons beëindig die gesprek en ek plaas die gehoorstuk baie ordentlik (en sag) op die mikkie terug.  Moet egter nie dat die uiterlike beheersdheid jou mislei nie, want binne kook dit so dat ek voel of ek enige oomblik kan ontplof.

Ek sit voor die lessenaar en tel tot 10.  Toe tot 20 en daarna 30, maar dit help net mooi niks nie.    Die storm in my wil nie bedaar nie.  Ek tel en tel en tel (glo my, nie seëninge nie), en na 'n paar honderd, begin ek effe kalmeer. 

Ek besluit om die wyse ding te doen.  Ek sal daaroor slaap.  Ek weet dat as ek nou enige huisagent in die hande kry, is sy haar voortbestaan nie seker nie.  En wie weet wat anders ek haar nog  kan aandoen of toesnou .... Nee, ek sal wag tot more.

Dinge werk egter nie altyd uit soos ons hulle beplan nie.  Net voor vyf lui die telefoon en dis niemand anders as `n huisagent nie.  Dié wil ewe weet wat ons nou gaan doen (dis nou oor 'n huis waarna ons gaan kyk het, maar nog nie oor kan besluit nie, omdat daar vir ons doeleindes 'n kamer kort).  Ek vermoed (nee, weet) dis hulle agentskap wat die sondebok is met die bellery na die bank, en ek antwoord ewe sarkasties dat ek nie meer seker is of ons enige iets met hulle of die huis gaan doen nie.  Die arme vrou is skoon verboureerd en weet nie wat aangaan nie.  Ek laat nie op my wag nie en lig haar summier in.  Sy weet van niks nie, sê sy,  maar sal met haar baas daaroor praat.

Dis nie lank nie en die foon lui weer.  Hierdie keer weet ek dis die skuldige - die eienaar van die agentskap by wie die huis in die mark is.  Ek is reg hoor ek, toe ek antwoord. 'n Baie verskonende stem groet my terug.  "Ek is so jammer, maar verstaan nie wat aangaan nie."  Ek stip die punte van my misnoë aan haar uit. "Nee," sê sy, "ek het nog nooit die bank gebel oor jou aansoek om 'n lening nie".  Uitgevang!!  "O, maar jy weet van die aansoek.  Wie't vir jou gesê," bombardeer ek haar.

Sy's vas.  Ek kan dit hoor.  Stilte.  Nog stilte.   Ek weet nou moet sy haar antwoord baie versigtig benader en baie goed formuleer..   Die verteenwoordiger van die bank kom soms daar by hulle, en omdat sy weet ons is kliënte van daardie  bank, het sy toevallig teenoor haar genoem dat sy vir ons huise wys en dat daar 'n moontlikheid is dat ons in een van die huise belangstel.  Die bankvrou noem toe,  natuurlik ook  heel toevallig, dat sy besig is om met ons aansoek te werk.  Maar, sê sy wat die agente-vrou is, die bank het sy nooi gebel nie.   Die heel toevalligste natuurlik,  die bankvrou is niemand anders as ons helpende hand nie.

Nou toe nou.  Wie glo 'n mens?  Die bankvrou wat sê sy word geterroriseer met oproepe, of die agente-vrou wat sê sy't nooit gebel nie.  Eintlik maak dit nie saak nie.  Hulle moet maar onder meaar uitbaklei wie wat gesê of gedoen het.

Hoe dit ookal sy, die vertrouensverhouding tussen 'n bank en sy kliënt, kan net deur die  bank of een van sy verteenwoordigers geskend word en ons kan vir niemand anders as die bankvrou kwaad wees nie.  Al die ander, die agente, die bankvrou se werkgewers en ons, is onskuldige slagoffers van haar los mond.

Nou wonder ek …Hoeveel mense weet wat is ons bankbalans?   Hoeveel weet hoeveel ons maandeliks op wat ook al spandeer of nie spandeer nie?  Wonder jy nie ook nie?...


Theresa Potgieter
Walvisbaai
4 Oktober 2005

Groetnis
Theresa